1975 - ASSA Bloemfontein Centre

Januarie 8ste, 1975, Woonstel van Mnr. P. Erasmus, om 8nm.
Met verwysing na die okkultasie van die 19de November blyk dit dat die koördinate wat aan Mnr. Walker verskaf was foutief was en slegs een span nl. Mnr. Erasmus het iets waargeneem. Die sekretaris is versoek om Mnr. Hers hiervan in kennis te stel asook van die feit dat mnr. Walker in die hospitaal is vir behandeling en dat hierdie tak vir 'n lang ruk nie okkultasies sal aanpak nie.
Op voorstel van Mnr. Erasmus word ons volgende vergadering in Maart by die sterrewag gehou. Die voorsitter versoek mnr. Erasmus om 'n program vir die aand op te stel.
'n Skrywe is van mnr. M. D. Overbeek ontvang waarin hy verwittig dat twee Amerikaners mnre. C. Scovil en C. Ford ons tak sal besoek en 'n praatjie sal lewer. Die voorsitter versoek die sekretaris om berigte in die koerante te plaas, asook die SAUK in kennis te stel. Lede van die publiek is welkom en die vergadering word by mnr. C. T. M. Wilcox gehou. Dit begin om 7nm en die voorsitter versoek die sekretaris om mnr. Overbeek dienooreenkomstig in kennis te stel.
'n Skrywe is van mnr. Block, lektor aan die Universiteit van Witwatersrand ontvang waarin hy verwitttig dat hy Bloemfontein die 3de Februarie besoek en dat hy 'n praatjie sal lewer. Toevallig is dit so gereël dat daar 'n film vertoning gehou word die aand van die 3de en die praatjie sal dus met die vertoning saamval. Die sekretaris is versoek om mnr. Block dienooreenkomstig in kennis te stel.

Maart 12de, 1975, G. A. Fichardt Sterrewag, om 8nm.
'n Groot deel van die aand is spandeer aan algemene waarneming deur die teleskope en daarna is 'n vinnige vergadering in die sterrewag gehou. Daar is besluit om in die vervolg vergadering van half 8 tot half 9 te hou, en dan na die sterrewag te gaan. Om 'n begin te maak met 'n program word lede versoek om die konstelasies en die diereriem te bestudeer.
As gevolg van die besoek van die twee Amerikaners C. Scovil en C. Ford moet daar besluit word of die vereniging sy aandag sal bestee aan wisselsterre. Hierdie besluit word oorgelaat aan die volgende vergadering.

April 9th, 1975, Residence of Mr. G. J. Muller, at 7.30nm.
As it was slightly overcast it was decided not to go to the observatory.
Mr. Muller gave a very interesting talk on star co-ordinates and how to use setting circles.

Mei 14de, 1975, Huis van Mnr. G. N. Walker, 39 Vilonelstraat, om 7.30nm.
Mnr. Walker verwittig dat 'n okkultasie plaasvind op die 18de Junie om 22uur, 12min en 18sek. Dit is 'n dubbelster van 6.3 magn. en 5.8 magn. en die maan is 75% verlig. Hy sal die waarnemings poste afmerk en die lede sal weer deelneem.
Aangesien dit baie koud was is daar besluit om nie na die sterrewag te gaan nie.
Mnr. Walker verwittig dat die Rotariër beweging besluit het om 'n poging aan te wend om die Lamount Hussey sterrewag in 'n planetarium te verander. Van die regering en die munisipaliteit mag daar moontlik geldelike steun verkry word.

Junie 11de, 1975, Woonstel van Mnr. Rhodes, om 7.30nm.
Die voorsitter stel voor dat die tak 'n program moet hê en dat ons nie na die sterrewag toe gaan as ons nie weet wat ons gaan doen nie. Dit sal op 'n latere geleentheid bespreek word. Hy reken verder dat die klein sterrewag by Lamount Hussey seker teen 'n nominale koste van die Munisipaliteit verhuur kan word, en hy sal die Munisipaliteit hieroor nader.
Mnr. Rhodes verwittig dat oubaas Lincoln sy 3 1/2 duim wil weg maak aangesien hy te oud is om waarnemings te doen.
Mnr. Muller verwittig dat die slypmasjien voltooi is en dat die tak se 6 duim spieël nou geslyp kan word. Daar word besluit om nou slypklasse te hou.

Julie 9de, 1975, 17de Algemene Jaarvergadering, Huis van mnr. Wilcox, om 7.30nm.
Aangesien die sterrewag en teleskope tot dusver nog nie benut is nie word die belangrikheid van die volg van 'n program van waarneming weereens beklemtoon deur die voorsitter. Daar word voorgestel dat lede die konstelasies in die diereriem moet leer om sodoende die geografie van die sterrehemel te leer ken. Hy stel verder voor dat daar begin word met die bestudering van wissel sterre en dubbelsterre. Mnr. Muller verwittig dat hy soos altyd beskikbaar is vir die beplanning van okkultasies maar dat hy ongelukkig nie aktief kan deelneem aan ander waarnemings nie.
Mnr. Muller stel voor dat Mnr. Geary van die Planetarium uitgenooi moet word na Bloemfontein om 'n praatjie te lewer om sodoende propagande te maak onder die publiek vir die beoogde Planetarium. Dit kan so gereël word dat die praatjie saamval met 'n film vertoning. Die koste van die planetarium word om R150 000 beraam. Mnr. Muller verwittig dat hy telefonies in verbinding met die munisipaliteit was en dat die klein sterrewag op Naval Hill beskikbaar is vir die tak. Daar sal egter formeel aansoek gedoen moet word. Hy onderneem om die nodige in die verband te doen.
Op voorstel van Mnr. Wilcox word al die uitredende bestuurslede weer herkies:
Voorsitter: Mnr. G. J. Muller
Ondervoorsitter: Mnr. J. Rhodes
Komiteelede: G. N. Walker en D. P. de Leeuw
Sekretaris/Penningmeester: F. Neser.
Hierna lewer die voorsitter sy jaarverslag gevolg deur die finansiële verslag deur die sekretaris.

Augustus 13de, Woning van Mnr. Prinsloo, om 7:30 nm.
Wat die tak se aansoek vir die huur van die Naval Hill Sterrewag betref verwittig die voorsitter dat die saak nog die munisipaliteit se aandag geniet.
Wat die bestudering van wisselsterre aanbetref stel Mnr. Muller voor dat lede 'n teleskoop leen vir die aangeleentheid. Verder word voorgestel dat 'n slypklas op Vrydag 22 Augustus 1976 van 8 tot 9 nm gehou word.

September 10de, 1975, Woning van Mnr. G. J. Muller, 35 Wilcoksweg, om 7:30 nm.
Mnr. Walker verwittig dat daar 'n okkultasie op Vrydag 10/10/75 sowat 103 myl vanaf Bloemfontein plaasvind. Daar word besluit om dit nie aan te pak nie aangesien dit te ver is. Dit blyk ook dat Mnr. Walker geen verdere inligting oor okkultasies vir die afsienbare toekoms het nie.
Die voorsitter verwittig dat die munisipaliteit ingewillig het om die klein sterrewag aan die tak beskikbaar te stel teen R24,00 per jaar. Die tak sal egter self slotte moet verskaf. Mnr. de Leeuw sê dat hy 'n slot met twee sleutels aan die tak beskikbaar kan stel. Mnr. Muller sal die munisipaliteit nader omdat die huur te hoog is.
Daar word besluit om 'n wisselster groep te stig onder beheer van Mnr. Groenewald en Labuschagne. Die 6 duim teleskoop word aan hulle beskikbaar gestel. Mnr. Walker stel voor dat wisselsterre bestudeer moet word en dat gereelde waarnemings gedoen moet word.
Met betrekking tot die planetarium verwittig Mnr. Walker dat Mnr. Geary van die Planetarium eers die Rotariër beweging sal toespreek oor die moontlikhede van 'n Planetarium en wat dit alles behels. Daarna sal die tak reël vir 'n film aand om die Planetarium aan die publiek van Bloemfontein bekend te stel. Mnr. Walker noem dat Mnr. Geary en Prof. A. Blelisley 'n praatjie op genoemde aand moet lewer. Dit sal egter eers in volgende jaar plaasvind.

Oktober 8ste, 1975, Woning van Mnr. C. T. Wilcox, om 7.30nm.
Die voorsitter verwittig dat hy 'n skrywe aan die stadsraad gerig het waarin hy versoek dat die huurgeld vir die genoemde geboutjie verminder moet word. Hy versoek die sekretaris om intussen die R24,00 huur aan die munisipaliteit te betaal. Mnr. Rhodes versoek die sekretaris om 'n slot aan te koop vir die sterrewag se deur, hy sal die koste dra.
Mnr. Groenewald verwittig dat daar op die oomblik slegs in Pegasus Beta 'n wisselster is wat waargeneem kan word maar is moeilik om waar te neem aangesien dit groei van 'n 2.1 sterlite tot 3 sterlite ster. 'n Uitnodiging word tot lede gerig om die waarnemings by te woon. Die plek van die waarnemings is die huis van Mnr. J. Labuschagne, Rasseistraat 11.
Wat die slypklasse aanbetref is die bywoning so swak dat die voorsitter voorstel dat lede hom enige dag van die week kan skakel indien hulle geïntereseerd is om weer te sien hoe die 6 duim spieël geslyp word.
'n Welkome donasie van die boek "Handbook for Telescope Making" deur N. E. Howard word deur Mnr. Rhodes aan die tak geskenk.
Die begeerte word weereens geopper dat die tak 'n besoek bring aan Boyden Sterrewag. Die voorsitter sal Prof. Jarret hieroor kontak.

November 12de, 1975, Woning van Mnr. G. N. Walker, 39 Vilonelstraat, om 7.30nm.
Geen antwoord is nog van die munisipaliteit ontvang i.v.m. die vermindering van die huurgeld van die Sterrewag nie.
Mnr. Walker verskaf daarna inligting van die volgende okkultasies: 24/01/75, afstand 79 myl, ster 7.7 sterlite. 55 myl, 6,3 sterlite. 18 April 6,9 sterlite 4/30 van maan 82% verlig. 'n Okkultasie sal aangepak word en bespreking word oorgelaat tot die volgende vergadering.
'n Groot aantal "Sky and Telescopes" is deur Mnr. Keuris aan die tak geskenk, asook 'n paar boeke. Die voorsitter versoek Mnr. Walker en Rhodes om inligting te bekom mbt binders vir die boeke.