1984 - ASSA Bloemfontein Centre

Januarie 27ste, 1984, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Alhoewel dit gereën het en dit sopnat was, was almal dit eens dat die braai by Rayton 'n redellike sukses was. Almal het die hoop uitgespreek dat die weer meer gunstig volgende keer sal wees.
Die okkultasie van 13 November 1983 was 'n redelike sukses as gevolg van mooi weer en is deur die volgende lede aangepak: Mnre. Viljoen, Rabe, Tereblanche.
Hierna het Mnr. Rabe baie interessante skyfies gewys wat hy uit die argiewe opgediep het. Alhoewel van die skyfies tot so vroeg as 1901 dateer was almal dit eens dat wat die kwaliteit betref dit glad nie agteruit hoef te staan met hedendaagse foto's van groot sterrewagte nie.

Maart 23ste, 1984, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
'n Skrywe is van Mnr. B. D. Viljoen ontvang waarin hy bedank as voorsitter. Hy voer druk van werk en gebrek aan tyd as rede aan. Geen besluit is oor 'n plaasvervanger geneem nie.
Daar word voorgestel dat vergaderings weer maandeliks gehou word aangesien kontak met lede op die huidige stelsel verloor word.
'n Skrywe is van die Kaap ontvang oor die betaling van die Direkteur se onkostes. Daar word voorgestel dat die geld betaal word indien fondse beskikbaar is. Mnr. Walker sal die nodige doen.
Mnr. Erasmus verwittig dat hy gevra is om op 'n Izankenyezi te Pietermaritzburg 'n praatjie te lewer. Daar word voorgestel dat hy oor die aktiwiteite van die tak sal praat nl. die besoek aan Ladybrand, elke lid se aktiwiteite, Mnr. Tereblanche se kursus by Unisa en Mnr. Walker se betrokkenheid by okkultasies. Hy vertel verder van 'n 12 1/2 duim Cassegrain wat hy van Amerika ingevoer het met baie goeie gehalte.
Mnr. Walker wil 'n rekenaar aankoop vir die berekening van okkultasies

Mei 11de, 1984, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Mnr. Walker berig dat daar op 22 Mei 1984 'n okkultasie plaasvind om 7/30nm wat die tak sal aanpak op die Florisbad pad, 10 myl uit. Mnr. Danie Overbeek woon ook die vergadering by en bedank Mnr. Walker vir die gereelde terugvoering van okkultasie uitslae hetsy dit in goeie of swak weer plaas gevind het. Mnr. Overbeek sê dat dit eintlik jammer is dat so min lede beskikbaar is om die okkultasie van 22 Mei aan te pak. Hierna lewer hy 'n praatjie waarvoor hy hartlik bedank word deur die voorsitter.

Julie 27ste, 1984, Algemene Jaarvergadering, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Mnr. Walker verwittig dat hy na Pietermaritzburg verhuis as gevolg van sy vrou se swak gesondhied. Hy sal sy kennis en ondervinding aan Jack Rabe oordra insake die beplanning van okkultasies. Mnr. Ellinckhuizen sal optree as verteenwoordiger van die raad. Daar word met groot spyt kennis geneem van Mnr. Walker se vertrek. Mnr. Walker was vir 25 jaar lid van die vereniging en het 'n groot bydrae gelewer as voorsitter en as organiseerder van okkultasies en aanmoediging in die algemeen. Hy word alles van die beste toegewens vir die toekoms.
Daar word besluit om vergaderings elke maand te hou en wel elke 4de Vrydag van die maand.
Hierna lewer Mnr. Van Ellinckhuizen sy jaarverslag waarna oorgegaan is tot die kies van nuwe bestuurslede:
Voorsitter: Mnr. Van Ellinckhuyzen
Ondervoorsitter: Mnr. B. D. Viljoen
Sekretaris/Tesourier: Mnr. F. Neser

Oktober 26ste, 1984, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Die okkultasie van 22 Mei was 'n mislukking agv weer.
'n Skrywe is ontvang waarin dit blyk dat ASSA geldelik in die nood is as gevolg van die daling van die waarde van die Rand teenoor die Dollar. Daar sal 'n vraelys omgestuur word waarin takke hulle menings moet lig of die prys van Sky and Telescope gelig moet word of dat die blad nie verder bestel moet word nie. Ons lede sê dat hulle nie Sky and Telescope wil verbeur nie.

November 30ste, 1984, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Mej. Pat Booth woon die vergadering by en lig die tak in oor die intekeningsfooi wat na R45 verhoog word.
Die voorsitter het die lede hierna weer aangemoedig om die okkultasie program met ywer aan te pak. Soveel as moontlik waarnemings vir astroïde okkultasies word gesoek en dit vereis nie veel tyd en inspanning nie.
Mnr. Erasmus nooi hierna die lede uit vir 'n braaivleis sodra sy sterrewag voltooi is.