1994 - ASSA Bloemfontein Centre

Januarie 17de, 1994, Bestuursvergadering, woning van Mnr. D. Steyn, om 7nm.

Register van besluite:
Die volgende lede het of gaan verhuis en is nie langer beskikbaar om op die bestuur te dien nie: Mnr. H. Calitz - Voorsitter, Mej. L. Hattingh - Sekretaresse / tesourier, Mnr. C. de Coning - bestuurslid. As tussentydse maatreel word besluit dat Mnr. B. Van Zyl sal optree as voorsitter, Mnr. H. Van Der Walt sal aanbly as onder-voorsitter, en Mnr. D. Steyn sal aanbly as bestuurslid. 'n Persoon sal gewerf word vir die pos van sekretaresse/tesourier. Die ander poste op die bestuur sal vir eers vakant bly. Die volgende bestuursverkiesing sal Junie 1994 gehou word.
'n Program word opgestel vir die eerste helfte van 1994.
Die vereniging wil graag weer gebruik maak van die UOVS se fasiliteite. Mnr. B. Van Zyl en Mnr. C. De Coning word afgevaardig om Mnr. M. Hoffman in die verband te gaan spreek.
Elementêre sterrekaarte en maankaarte gaan elke maand versprei word.
Mnr. De Coning sal as voorsorgmaatreel ook by Vista Universiteit aansoek dat ons daar kan vergader indien die UOVS nie vir ons toestemming kan geen nie.

Januarie 27ste, 1994, Fisika gebou, UOVS, om 7nm.
Video oor die heelal word vertoon, waarna Mnr. B. Van Zyl 'n praatjie lewer oor die amateur sterrekunde. 12 Persone teenwoordig.

Februarie 24ste, 1994, Fisika gebou, UOVS, om 7nm.
Mnr. C. de Coning lewer 'n interessante praatjie oor sterrekunde geskiedenis. 15 persone teenwoordig.
Na afloop van die byeenkoms is 'n bestuursvergadering gehou. Die volgende besluite is geneem:
Die Vereniging mag gebruik maak van die UOVS se fasiliteite. 'n Brief moet net gerig word waar toestemming gevra word om Boyden sterrewag op 21/07/94 te gebruik. Mnr. B. Van Zyl sal dit doen.
Mej. J. Van Heerden word aangewys as die volgende sekretaresse.
Die Vereniging het al die jare lank 'n Bankrekening by Trust Bank - (nr. 38-12513-002-7) Saldo. R 558,98. Die enigste persoon wat tekenregte het, is 'n Mnr. Neser wat nie meer 'n aktiewe lid van die vereniging is nie. Die bank verlang 'n brief van Mnr. Neser voordat hulle bereid is om die tekenregte te verander. Mnr. H. Van Der Walt sal poog om Mnr. Neser op te spoor. Nuwe Tekenregte: Enige twee van Mnr. Van Der Walt, Mej. Van Heerden of Mnr. Van Zyl.
Daar word besluit dat die Vereniging sy eie posbus moet bekom, dat 'n lede adreslys opgestel moet word en dat nuusbriewe uitgestuur moet word.
'n Pannekoekaand word vir Vrydag 10 Maart 1994 by die woning van Chris te Coning gereël.
Mnr. De Coning maak melding dat die Vista Universiteit toestemming verleen het dat ons mag gebruik maak van hulle fasiliteite. Neem met dank kennis.

Maart 31ste, 1994, Boyden Sterrewag, om 7nm.
Slegs 10 mense daag op, aangesien dit die begin van 'n lang naweek is. Observasies deur die teleskope.

April 4de, 1994, Onderwyssentrum, Dealeweg, om 7nm.
Onder leiding van Mev. Schoch het ons meer geleer van die sterrekunde opvoedkunde program vir begaafde leerlinge. Waarneming is ook gedoen vanaf hulle sterrewag. 15 Persone het opgedaag. Daar was slegs 3 mans omrede ons manlike lede militêre verpligtinge tydens die verkiesing gehad het.
'n Brief met dank betuiging is aan Mev Schoch gestuur.

Mei 25ste, 1994, Boyden Sterrewag om 7nm.
Die eerste Nuusbrief is op 12 April 1994 aan al die lede uitgestuur, en is hierna gereeld gestuur.
Tien persone het die koue trotseer om waarneming met die teleskope te doen. Matie Hoffman se praatjie oor "sterre kleure" het groot byval gevind. Daar was ongelukkig nie genoeg tyd gewees om die gedeelte oor "afstand bepaling" te doen nie. Op versoek van Matie sal dit op 'n latere stadium gedoen word.

Uit die Nuusbrief van 22 Junie 1994 die volgende:
Botsing tussen Jupiter en Schoemaker.
Die langverwagte botsing tussen die planeet Jupiter en die komeet Shoemaker gaan na alle verwagtinge gedurende Julie maand plaasvind. Ons as vereniging is in die bevoorregte posisie dat ons op die aand van 21 Julie 1994 waarneming vanaf Boyden-Sterrewag gaan doen. Meer besonderhede sal in die volgende nuusbrief bekend gemaak word.

Junie 30ste, 1994, Algemene Jaarvergadering, Fisika gebou, UOVS, om 7nm.
Deon Steyn het 'n interessante praatjie oor sateliete gelewer, gevolg deur 'n Video vertoning.
Bestuursverkiesing: Volgens die grondwet moet die bestuur bestaan uit 7 lede. Aangesien ons tans min lede het, is besluit dat die bestuur uit slegs lede moet bestaan. Die uitslag was soos volg:
Voorsitter: Mnr. Braam Van Zyl
Onder Voorsitter: Mnr. Deon Steyn
Sekretaresse/Tesourier: Mej. D. Bekker
Adisionele lid: Mnr. N. Van Der Walt

Uit die Nuusbrief van 14 Julie 1994 die volgende:
Botsing tussen Jupiter en Schoemaker
Een van die grooste en interessantse gebeurtenisse in die geskiedenis van sterrekunde vind hierdie maand plaas wanneer die komeet Shoemaker teen die planeet Jupiter bots. Wat hierdie botsing so uniek maak is die feit dat dit al maande voor die tyd voorspel is.
Met 'n volume van 1330 keer groter as die aarde, is Jupiter die grootste planeet in ons sonnestelsel en oefen dit 'n enorme aantrekkingskrag uit op ander hemelliggame. Sterrekundiges vermoed dat die komeet Schoemaker alreeds in 1970 vasgevang is in Jupiter se aantrekkingskrag en dat dit sederdien om die planeet wentel. Gedurende Julie 1992 het dit egter so na aan Jupiter gekom dat dit in 21 stukke op gebreek het. Die stukke is tot 50 000 000 km ver geslinger en dit het daarna begin terug val. Die verwagting is dat die stukke vir die tydperk 16 - 22 Julie 1994 op Jupiter gaan neesrtort. Die inpak van hierdie botsing gaan groter wees as die krag van al die wêreld se atoombomme saam.
Wat ons alles kan sien.
Vir die van u wat 'n reuse ontploffing met donderslae en blitse verwag, wag daar 'n reuse teleurstelling. Die afstand tussen ons en Jupiter is eenvoudig te groot. Die aand van 21 Julie 1994 sal ons op hoogte gebring word van die jongste verwikkelinge. Ons sal ook die geleentheid kry om met die teleskoop na Jupiter te kyk om moontlik skade wat deur die botsing aangerig is, waar te neem.
U aandag word daarop gevestig dat die Fisika Departement, UOVS, op die onderstaande datums aanbiedings by Boyden Sterrewag hou. Mnr. M. Hoffman kan by tel: 4012924 gekontak word vir verdere inligting:
16/07/1994 Koste R75 per persoon (insluitende 'n kaas en wyn ete)
20/07/1994 Koste R20 per persoon
21/07/1994 Koste gratis aan ons opbetaalde lede en R20 per besoeker.

Julie 16de - Julie 21ste 1994, Boyden Sterrewag

Saterdag 16/07/1994
Kaas en wyn funksie geborg deur "Pick & Pay". ASSA bedien koffie en tee.

Maandag 18/07/1994
Kaas en wyn geborg deur "Pick & Pay". ASSA bedien koffie en tee.
Waarneming van die botsing tussen Jupiter en Schoemaker:
" Regstreekse uitsending op AGENDA, TV1 - skakel oor na Boyden om ongeveer 21:55. 'n Kort geskiedenis van Boyden word ook uitgesaai.
" Die "Groot botsing" word waargeneem op 'n TV skerm in die saal opgestel wat in verbinding is met 'n CCD kamera op die 60 duim teleskoop.
" Tussendeur is lesings aangebied deur ASSA lede van Johannesburg en Pretoria.
" Mev. Schoch vanaf die Onderwyssentrum, Bloemfontein, bied 'n uitstalling aan met betrekking tot komete.

Donderdag 21/07/1994
Bloemfontein ASSA lede vergader by Boyden. Ongeveer 30 persone teenwoordig, 17 lede sluit aan by ASSA 1994 - 1995. Lede neem die omvang van die skade op Jupiter waar deur die groot teleskope, asook op die TV skerm. 'n lid vanaf Pretoria, Mnr. Pieter ? gee 'n interessante inleidende lesing oor hemelliggame. 'n Skyfiereeks opgestel deur Mnr. B. Van Zyl (Voorsitter, Bfn) dien ter illustrasie.

Na aanleiding van 'n brief waarin Mnr. F. C. Neser sy tekenmagte afstaan op die Trust Bank rekening, word die tekenmagte oorgeplaas na : Mnr. B. Van Zyl (Voorsitter)
Mnr. D. Steyn (Onder-voorsitter)
Mej. D. Bekker (Sekretaresse/Tesourier)

Augustus 26ste, 1994, Boyden Sterrewag om 6.30nm.
'n "Bring en Braai" is gehou te Boyden - Sterrewag. Ongeveer 30 persone teenwoordig. Waarneming is deur die teleskope gedoen. 'n Video aangaande die geskiedenis van Boyden is vertoon. 'n Skyfiereeks aangaande verskeie konstalelasies is saamgestel en aangebied deur Mnr. B. Van Zyl. 'n Kort lesing is ook gebied en lesing notas is aan almal teenwoordig uitgehandig.

September 8ste - 13de 1994, Onderwyssentrum te Dealweg 31, om 7.30nm.
'n Sterrekunde kursus vir die lede is deur Mev. Schoch aangebied en was 'n groot sukses. Agt en twintig lede het dit bygewoon en al die kursusgangers het baie by die kursus gebaat.

Oktober 27ste, 1994, Departement Fisika, UOVS, om 7nm.
Ongeveer 20 persone was teenwoordig. 1 Nuwe lid het aangesluit. 'n Kort praatjie aangaande die sonsverduistering is gelewer deur Mnr. B. Van Zyl. Die verduistering begin om 16:15 op 03/11/1994 en eindig teen ongeveer 17:20. Die geskiedenis van die sonsverduistering is ook aangebied.
Proponent Lizette de Bruyn het 'n kort lesing, getiteld: "Wat sê die Bybel oor die Skepping (naamwoord) en die skepping (werkwoord)" gelewer. Lesing notas is aan almal teenwoordig uitgehandig en literatuur verwysings is gedoen.
Mnr. M. Hoffman het kortliks terugvoer gelewer oor sy formele besoek aan die Sutherland-sterrewag in die Kaapprovinsie.
Na afloop van die byeenkoms is 'n bestuursberpreking gehou aagaande die moontlike aanbieding van die jaarlikse ASSA Nasionale Kongres van 1995, te Bloemfontein.

November 17de, 1994, Departement Fisika, UOVS, om 7nm.
Ongeveer 20 persone was teenwoordig. Mnr. Jens Jacobsen het 'n insiggewende praatjie aangaande Radiosterrekunde gelewer en die rol van die amateurs in hierdie veld bespreek.

Desember 3de. 1994, Boyden Sterrewag, om 6nm.
'n "Bring en Braai" en sterrekykaand is gehou. Ongeveer 20 perone was teenwoordig plus die eregaste vir die aand, Mev. Drieks Burger en haar familie. Mev. Burger het haar herinneringe van haar werk by Boyden sterrewag met die teenwoordig gedeel.