The Lamont-Hussey Observatory
Naval Hill, Bloemfontein, South Africa

Concise History and Current Research
Page compiled by ASSA Bloemfontein Centre

Home


Die Lamont-Hussey Sterrewag: Naval Hill, Bloemfontein
1928 -1974
Deur ASSA Bloemfonteintak

Nie baie Bloemfonteiners ken die geskiedenis agter hierdie vergete sterrewag op Naval Hill in Bloemfontein nie. Vandag staan die sterrewag bekend as die "Sterrewag Teater" - geensins meer in gebruik vir sterrekunde nie, maar vir drama opvoerings. Wat het gebeur met die teleskoop wat in die gebou was en wanneer het die sterrewag die laaste keer sy teleskoop na die hemelruim opgeswaai? Baie dink dat die sterrewag oorgeskuif is na Boyden Sterrewag by Maselspoort, maar dit is glad nie die geval nie! Boyden en Lamont-Hussey was besit deur twee aparte Amerikaanse universiteite en het individueel gefunksioneer. Boyden Sterrewag word huidiglik deur die Universiteit van die Vrystaat besit en bestuur. Dit het 'n aktiewe opvoedkunde en navorsingsprogram.

Hierdie is egter die interessante storie agter die minder bekende, maar tog belangrike
Lamont-Hussey Sterrwag op Naval Hill...

History
and archives
Recent discoveries
and news
Photo gallery
and sketches
Links
and contact details
Become part of
the research effort
Contact us for a visit
to the Museum

Die Storie van 'n Vriendskap
Die naam van die Sterrewag, "Lamont-Hussey", verwys na twee goeie universiteitsvriende wat engineurswese studeer het aan die Universiteit van Michigan in die 1880's.
Hulle was twee ambisieuse manne! Mnr. WJ Hussey het altyd gesê watter bekwame en beroemde sterrekundige hy eendag gaan word en Mnr. RP Lamont het gepraat van die baie ryk en gerespekteerde sakeman wat hy eendag gaan wees. Op 'n stadium het Lamont vir Hussey belowe: "As ek eendag 'n ryk man is, sal ek 'n sterrewag vir jou bou!"
Selfs na universiteit het hul vriendskap versterk en hulle het altyd kontak behou.

Die begin van hul loopbane
Hussey het toe sowaar 'n bekende sterrekundige geword! Hy het aanvanklik navorsing gedoen by die Lick Sterrewag in Kalifornië en het teen 1905 altesaam 1 327 dubbelsterpare gevind - 'n ongelooflike prestasie vir daardie tyd. Dit het hom die Lalande Goue Medalje van die Akademie vir Wetenskap in Parys besorg. Hy het toe sowaar bekend geraak! ('n "Dubblester" is twee sterre wat om 'n sentrale middelpunt in die ruimte wentel. Ongeveer 50% van alle sterre is dubblesterre! Ons Son het egter nie so 'n maat nie en is 'n enkelster).

Mnr. Lamont het 'n loopbaan in die sakewêreld gevolg en het sy drome bewaarheid deur 'n ryk en invloedryke sakeman te word. Hy het sy belofte aan Hussey nagekom deur aan hom in 1909 die magtiging te gee om 'n sterrewag in die Suidelike halfrond op te rig spesifiek sodat Hussey sy navorsing in dubbelsterre kon voortsit.

Planne vir 'n Teleskoop - 1910
In 1909 was Hussey terug by sy almamater as 'n professor in sterrekune by die Universiteit van Michigan. Hierdie universiteit was ook die bestuurder van die geskiedkundige "Detroit Sterrewag" geleë by Ann Arbour.
Aanvanklik was die planne om 'n 24 duim refraktor (lens) teleskoop vir die sterrewag te bekom. (Die 24 duim verwys na die breedte van die lens wat voor in die teleskoopbuis kom). Op hierdie stadium het hulle natuurlik nog geen idee gehad waar in die Suidelike halfrond hulle die sterrewag wil oprig nie. In 1910 is daar begin met die optrek van planne vir 'n 24 duim teleskoop. Rou materiaal vir die lens is bestel vanaf Europa in 1911, maar die Eerste Wêreld Oorlog het aflewering in so 'n mate vertraag dat die bestelling gekanselleer moes word. Pogins om die lens te vervaardig in Amerika het nie geslaag nie - dit is 'n hoogs gespesialiseerde werk om 'n teleskoop lens te maak!
Eers in 1923 het Hussey gehoor dat 'n 27 duim lens beskikbaar is vanaf Jena in Europa. Hulle was een van die beste optiese firmas in die wêreld. Aflewering van die lens het geskied in 1924 aan Hussey by Ann Arbour. Daar is begin met konstruksie van die teleskoop en dit is tydelik opgerig net buite Detroit Sterrewag. Dit was 'n ongelooflike struktuur wat 'n mens se asem sou wegslaan! Die buis was oor die 8 meter lank en het bestaan uit twee saamgehegde buise van 4 meter elk. Die hele teleskoop saam met sy voetstuk het tonne en tonne geweeg.
Die teleskoop is by Ann Arbour getoets en gestel en daar is gevind dat die lens van besonderse goeie gehalte is.

Soektog na 'n Bouplek vir die Sterrewag - 1923
Aanvanklik was die idee om die sterrewag op te rig in Argentinië, maar ongustige weerspatrone het Hussey laat besluit om in Suid-Afrika te gaan soek na geskikte bouplek. Reeds in 1923 het hy na Suid-Afrika vertrek met 'n klein teleskopie en het vele plekke oorweeg vir die sterrewag.
Hy het 'n maand deurgebring op Naval Hill in Bloemfontein en het gesien dat weersomstandighede baie ideaal is. Die stad se munisipaliteit het hom baie ondersteuning gegee en het die idee van 'n internasionale sterrewag hartlik verwelkom!
Hussey is toe terug na Amerika in 1924, sonder dat hy op 'n presiese plek besluit het. Hy het egter geweet dit sal iewers in of rondom Bloemfontein wees.

Die Amptelike Ekspedisie na Suid-Afrika - 1926
In Oktober 1926 het die ekspedisie na Suid-Afrika vertrek. Dit het bestaan uit Prof. Hussey en sy vrou sowel as Dr. RA Rossiter, sy vrou en hul kinders. Hulle sou via London na Suid-Afrika toe gaan. Hulle het laat in Oktober in London aangekom.
Die teleskoop is dieselfde tyd per trein vervoer na New York hawe waar dit op 'n skip gelaai is na Oos-Londen in Suid-Afrika. Heelwat ander toerusting is ook saamgestuur - waarnemings instrumente, masjienerie, boeke, meubels en baie ander items. Dit sou 2 maande neem voor die teleskoop in Suid-Afrika aankom.

Tragedie tree in
Net voor die ekspedisie na London vertrek het, het Hussey 'n aanval van longontsteking gekry. Dit het hom bedleênd gelaat vir 'n wyle. Hy het egter stadig aan versterk en het probeer om homself nie te ooreis op die boot nie. In Londen aangekom het hulle 'n paar dae rustig vertoef.
Maar een aand tydens 'n dinee saam met vriende het die onverwagse gebeur. Hussey het net ewe skielik in sy stoel stilgeraak en dadelik 'n pynlose dood gesterf. Dit was 'n groot terugslag vir almal en 'n droom van Hussey is hierdeur beëindig. Hy het nou al so lank gewag vir die teleskoop lens en alles was gereed en in plek. Die ekspedisie is terug na Amerika toe.


Die droom word voortgesit!
Dr. Rossiter en sekerlik Mnr. Lamont ook, het besluit dat Hussey se droom nie vergete mag raak nie. Daar is beluit dat Rossiter en sy gesin na Bloemfontein moet vertrek en 'n geskikte bouplek vir die sterrewag vind. Hy sou Hussey se plek as direkteur van die sterrewag inneem. Hy het hier gearriveer in laat Novemver 1926 en is baie goedhartig deur die stadsraad ontvang. Hy het te werk gegaan om Hussey se keuses van oprigting te bestudeer en het Naval Hill as besluit aanvaar - dit sou daar beskut wees van die weer, ligte van die stad en Bloemfontein het feitelik perfekte weersomstandighede gehad!
Die munisipaliteit het 'n besonderse groot bydrae tot die sterrewag gelewer. Hulle het gratis 'n pad gebou, water en dreinering aangelê en elektrisiese kragtoevoer voorsien. Hulle het die opvoedkundige waarde van hierdie sterrewag onmiddelik besef; Bloemfontein sou sy naam as waardige opvoedkundige sentrum soveel versterk. Die stadsraad het ongeveer £4 000 bestee.

Konstruksie van die Sterrewag neem 'n aanvang
Die teleskoop het reeds in Suid-Afrika gearriveer in Desember 1926. Tenders het voor die stadsraad en Rossiter verskyn in Mei 1927 vir die oprigting van die gebou. Hulle het 'n tender van £4 600 gekies. Die totale kostes van die sterrewag was as volg:
Teleskoop = £ 8 000. Koepel = £ 6 000. Gebou = £ 5 000. Stad = £ 4 000. Totaal = £ 23 000
Grondwerke het begin in Junie 1927. Die sterrewag se koepel tesame met twee sterrekundiges het gearriveer in November 1927. Hierdie massiewe 50 ton koepel se installasie is voltoooi in Maart 1928 en die teleskoop was gereed in April van daardie jaar.

Die Opening van die Lamont-Hussey Sterrewag
Die Sterrewag is amptelik geopen op 28 April 1928 deur Bloemfontein se burgemeester. Interessant genoeg is dat Boyden Sterrewag wat aan Harvard Universiteit behoort het, ook in hierdie tyd opgerig is buite Bloemfontein by Maselspoort. Bloemfontein sou met die koms van hierdie twee sterrewagte een van die bes toegeruste stede ter wêreld wees vir sterrekundige navorsing!
Die eerste waarnemers by die Sterrewag was Dr. Rossiter (direkteur), Mnr. MK Jessup (assistent) en Mnr. Henry F Donner (assistant) almal van die Universiteit van Michigan.
Die eerste navorsingprojek sou vir 8 jaar duur. Rossiter sou die volle tyd gebly het en die assistente vir die eerste drie jaar.

Die Eerste Navorsing
Die sterrewag en teleskoop is spesiaal gebou vir die waarneming van dubblesterre. Daar was nog baie braak grond (ruimte!) in die Suidelike halfrond. Nog baie dubbelsterre het gewag om ontdek te word. Die Lamont-Hussey sterrewag het saam met die Union Sterrewag in Johannesburg saamgewerk om 'n katalogus op die been te bring en in stand te hou van dubbelster pare in die suidelike hemelruim. Die Naval Hill sterrewag het fantastiese werk gedoen in die ontdekking van dubbelsterre, onder leiding van die bekwame Dr. Rossiter. Baie vernuf was nodig om dubbelsterre op te spoor. In die eerste 8 jaar was oor die 5 000 dubbelsterre gevind!

Dr. RA Rossiter (1896-1977)
Die sukses van die sterrewag was grotendeels te danke aan hierdie man se motivering en dinamika. Hy het verseker dat Prof. Hussey se droom vergestalting kry deur so baie ontdekkings te maak en alhoewel die wêreld nie aldag ag geslaan het op sy werk nie, lê dit vandag 'n basis wanneer sterrekundiges naslaan werk doen in sterkatalogusse. Rossiter se naam word tot vandag toe nog gehoor in die Fisika wanneer daar gepraat word van die "Rossiter-effek" in spektroskopie. Rossiter het in 1952 afgetree as direkteur van die sterewag nadat hy alleen altesaam 5 534 dubbelsterre ontdek het en 23 800 waarnemings van hulle gemaak het. Hy het sy laaste paar jare as direkteur spandeer om 'n "Katalogus van Suidelike Dubbelsterre" saam te stel en het dit opgedra aan Prof. Hussey. Navorsing toon dat Rossiter die naam "Lamont-Hussey" gegee het vir die sterrewag.
Hy en sy gesin was nooit terug na die VSA toe nie - hy het afgetree in Natal en is oorlede in Bloemfontein in 1977. Sy dogter woon vandag in die Vrystaat, maar dit is onseker waar sy seun homself bevind.

Die Sterrewag word amper gesluit - 1936
Weens die wêreldwye ekonomiese depressie, was die sterrewag amper gesluit in 1936. Die hoofprojek van die sterrewag het ook aan 'n einde gekom, alhoewel daar nog baie ander werk gedoen kon word. Die Suid-Afrikaanse regering het egter ingespring en het geld vir 5 jaar beloof sodat Rossiter sy werk kon voortsit. Die stadsraad het ook geld bygedrae. Na die 5 jaar het die Universiteit van Michigan weer geld beskikbaar gestel.
Baie min artikels van hierdie tyd van die sterrewag se lewe is beskikbaar. In 1946 het daar egter 'n artikel verskyn in die "SA Electrical Review" waarin Rossiter die werking van die sterrewag beskryf en noem dat daar al 7 200 dubbelsterre deur die sterrewag ontdek is!

Die besoek van Earl C Slipher - 1956
Slipher was 'n wêreld-beroemde sterrekundige van die Lowell Sterrewag in Amerika. Hy en 'n span het na Naval Hill gekom om foto's van Mars te neem met kamera-buise wat hulle aan die groot
27 duim geheg het. Van die beste foto's van die planeet Mars is geneem vanaf die Lamont-Hussey sterrewag. Nog ander beroemdes het die sterrewag deur sy lewe besoek, wat insluit bekende politici en wetenskaplikes.

Die Laaste Jare van die Sterrewag: 1962-1971
Die tweede en laaste direkteur van die sterrewag was Dr. Frank Holden, ook van Michigan.
Hy was direkteur vanaf 1962 tot '71. Hy het as't ware weer nuwe asem in die sterrewag ingeblaas nadat dit vir 'n tyd lank onaktief gestaan het. Hulle het 'n paar laaste navorsingsprojekte onderneem, veral wat die herbestudering van sekere dubbelsterre betref het. Die 27 duim teleskoop was so 'n majestieuse instrument, dit kon nie net staan en niks doen nie!

Die Sluiting van die Sterrewag: 1972 - 1974
Teen die tyd toe Frank Holden afgetree het in 1971, was die sterrewag se werk feitelik afgehandel en het in onbruik begin raak. Weens verskeie redes waaronder finansies en politiek seker die grootste rol gespeel het, is besluit om die sterrewag te sluit in 1972. Die Universiteit van Michigan het besluit dat hulle geen nut meer het vir die geboutjie of die teleskoop nie, en het dit aangebied aan enige iemand wat dit wou hê en vir 'n goeie rede kon aanwend. Die teleskoop is eers aan Boyden Sterrewag aangebied, maar dit sou te duur wees om in stand te hou - Boyden het sy eie probleme op daardie stadium gehad. Niemand anders wou die teleskoop gehad het nie, en dit is in die middel 1970's uitmekaar gehaal en verwyder…
Die gebou is aan die munisipaliteit gratis toegeken. Hulle het dit later aan SUKOVS gegee wat dit in 'n drama teater omskep het. Vandag staan die sterrewag bekend as die "Sterrewag Teater" en is steeds vir opvoeringsdoeleindes in gebruik.

Waar is die teleskoop en toerusting vandag?
Die optika van die teleskoop (lens en oogstukke) is deur persone van Boyden Sterrewag verwyder en in die middel 1970's teruggestuur aan die Universiteit van Michigan, wie dit vandag in veilige bewaring het.
Die teleskoop het ongelukkig nie so 'n goeie einde soos die gebou en lens gehad nie. 'n Klompie jare gelede is die buis, voetstuk en gewig van die teleskoop deur amateur sterrekundiges in Bloemfontein gevind. Dit is gekry in 'n veldjie langs 'n vliegtuigskuur by Erlichpark Brandweerstasie waar dit in die reën en wind gelê het. Gelukkig is daar nie te veel skade aan die dele nie (4 altesaam) en dit is herstelbaar tot 'n museumstuk. Dit sal egter nooit weer 'n operasionele teleskoop kan wees nie. 'n Brandweerhoof wat Erlichpark onder sy beheer het, is betrokke by Boyden Sterrewag en besef die belangrikheid dat die teleskoop se dele bewaar moet bly. Pogings is al aangewend om hierdie massiewe swaar dele in die skuur in te dra. Weens die gewig van die dele kon net nog twee van die vier dele ingedra word. Die droom is om al vier die dele eendag by Boyden sterrewag as 'n onderdak- museumstuk op te rig waar dit in die rigting van Naval Hill sal wys - daar is een plek op Boyden waar 'n mens die Lamont-Hussey koepel 26 km ver weg kan sien! Die Universiteit van Michigan het laat weet dat hulle bereid is om die lens en oogstukke vir Boyden Sterrewag te stuur indien hulle weet dat dit hier veilig in 'n museum sal wees.

Ander Sterrewag-skatte wat gevind is
Nog 'n paar ander ongelooflike "skatte" wat aan die Sterrewag behoort het is in Bloemfontein gevind. Die kameras wat deur Earl Slipher gebruik is in 1956 was nooit teruggestuur na Lowell Sterrewag nie om een of ander rede. Die stad se Parke afdeling het dit in bewaring geneem nadat die Lamont-Hussey Sterrewag in 1975 finaal gesluit is. Hierdie kameras is onlangs gevind in 'n stoorkamer in die dieretuin agter die olifante se hok! Daar is onderhandel met die Parke afdeling en die kameras is daarna deur persone van Boyden geneem na die Erlichpark brandweerstasie waar dit agter slot en grendel saam bewaar word met die teleskoop se dele.
Nog ander items wat al gevind is is boeke wat by die sterrewag was, 'n aandenkingsbordjie gemaak deur Rossiter en vele koerantartikels en foto's wat die geskiedenis van die sterrewag mooi opsom.

'n Onlangse ontdekking sluit in dele wat moontlik kon behoort het aan die 6 duim Clark refraktor teleskoop wat sedert die 1880's by die Universiteit van Michigan was en saam in die 1920's na Suid-Afrika verskeep is. Die dele ontdek in 'n Bloemfonteinse munisipale stadshuis sluit in die klok-aandryfstelsel van die 6 duim en 'n groot verskeidenheid kleiner parte. Die lens en buis van die teleskopie is nog soek...

Die Lamont-Hussey Sterrewag was 'n belangrike deel van die geskiedenis van Bloemtontein wat vele ervarings deurgemaak het. Al is dit vergete deur meeste van die stad se inwoners, sal dit altyd as 'n simbool van mense se opofferings, drome en aspirasies dien.

Skrywer: Gerrit Penning -
Laat weet asb. indien u enige addisionele inligting/ervaringe kan deel betreffende die Lamont-Hussey Sterrewag.